Hopelik voor die einde van die jaar!


Wat gebeur met ’n mens ná daardie laaste asem? Wanneer die liggaam agterbly… maar jy nie meer deel van die wêreld is nie?
“Die Stasie” neem jou op ’n ongewone en diep emosionele reis, nie net van lewe tot dood nie, maar van verstaan tot vergifnis, van twyfel tot rus.
Hierdie verhaal begin op ‘n plek tussen hier en daar: ‘n eensame treinstasie, waar tyd nie meer tel nie en waar jy nie heeltemal alleen is nie. ’n Man, verward en ontnugter ná ‘n tragiese ongeluk, word begroet deur ’n vreemde, wyse ou man, maar dié is nie sommer net ‘n reisiger nie. In ’n reeks diep en eerlike gesprekke word lewensvrae gevra wat elke mens in stilte dra:
Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
Waarheen gaan ons?
Het ek my doel op aarde vervul?
Wat van my geliefdes wat agterbly?
Wat as ek foute gemaak het?
Die twee gesels oor lewe en dood, geloof en twyfel, herinneringe en hoop, alles met deernis, ligtheid en ‘n tikkie humor. Soos die gesprek ontvou, begin die leser saam met die hoofkarakter ’n lewensreis herbesoek, een wat jou onkant vang, jou hart aanraak en jou dalk iets laat verstaan van jou eie menswees.
“Die Stasie” is nie net ‘n storie nie. Dit is ’n sielsoomblik. ’n Fiksieverhaal wat emosioneel diep delf, maar ook lig laat deurkom, vol verwysings na die Bybel, die menslike gees, en die krag van liefde wat nie eindig met die dood nie.
Klim saam op die platform.
Maar eers , vra jouself af: Wat sou jy sê as jy een laaste kans kry om te verstaan?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *